Wie hoe nie van pastei nie? Hierdie heilsame beespastei sal beslis ’n wenner wees.
Genoeg vir 4-6 mense
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 1 uur 50 min.
15 ml (1 e) olie
500 g biefghoelasj
45 ml (3 e) meel
750 ml (3 k) sterk beesvleisaftreksel, warm
4 takkies tiemie
30 g botter
1 ui, fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
250 g sampioene, fyn gekap
500 g botter-skilferkorsdeeg
1 eier
- Verhit die olie in ’n groot swaarboomkastrol. Geur die beesvleis en braai in sarsies oor hoë hitte tot goudbruin oraloor. Skep elke sarsie uit nadat dit klaar gebraai is.
- Sodra al die beesvleis verbruin is, sit dit terug in die pan, voeg die meel by en roer om te bedek. Voeg die aftreksel en 2 tiemietakkies by. Bring tot prutpunt. Verlaag die hitte, bedek en kook sowat 1½ uur tot die beesvleis baie sag is. Voeg ’n bietjie water by as dit te droog raak.
- Smelt intussen die botter in ’n braaipan oor matig lae hitte. Voeg die ui, knoffel en oorblywende tiemie by en braai tot versag. Voeg die sampioene by, stel die hitte hoër en braai tot daar geen vog in die pan oor is nie. Voeg die mengsel by die beesvleis.
- Rol die skilferkorsdeeg uit. Skep die vulsel in die middel van ’n vel en verf die kante van die deeg met geklitste eier.
- Bedek met die ander deegvel en druk die kante met ’n vurk toe. Verf die pastei met eier en bak 20 min. of tot goudkleurig.
Deur Hope Malau
Foto: Jacques Stander