Hierdie week is dit sò lekker om nog `n koskenner , Heleen Meyer, van my Jan van Riebeeck/ Huppelland ` familie` se boek te bespreek.
Ons kinders se stadskool is gepak met kosbekende ouers soos Laurent en Cyrillia van Bizerca Bistro, sjef Rudi Liebenberg van Mount Nelson. Sjef Ian Bergh van De Grendel en Wynand en Lizelle Du Plessis van Extreem Kwizeen.
Heleen en ek het al `n paar Huppelland ( Jan Van Riebeeck se pri-primêr) braaie deurgekuier, haar man Herman en kinders Inge en Armand is haar grootste ondersteuners.
Heleen is `n bekende in koskringe en gesels Maandagoggende net na 9vm met Martelize Brink en Johan Rademan op RSG vir haar program Groen Kombuis.
Julle ken ierdie gekwalifiseerde huishoudkunde en gerekende voedselkonsultant natuurlik ook van haar vorige kosboeke, die internationale pryswenners – Onthoukos en Kos is op die tafel!
Haar nuwe boek “Maak Vyf” handel oor 1 hoof bestanddeel wat dan gebruik word in 5 resepte.
Almal van ons soek dikwels na inspirasie en wil iets nuuts probeer met dit wat reeds in ons yskaste en koskaste wag. Heleen gebruik alledaagse botterskorsie, aartappels, geblikte tamaties en droë bone om nuwe gunstelinge te skep.
Ek het die Italiaanse Murgpampoentjiegebak en Tuisgemaakte Bone in Tamatiesous getoets.
Albei disse is fantastiese en heerlike gesinskos en gaan beslis dikwels op my tafel verskyn. Volg Hellen gerus op www.heleenmeyer.co.za en by Twitter: @heleenmeyer.
—————————————————————————————————————————————————
Italiaanse Murgpampoentjiegebak
Lewer 6–8 porsies • 1 uur 45 minute
Pak die verskillende groente in ’n mooi patroon of volgens hul kleure in rye. Dit lyk baie mooi!
45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie
1 mediumgroot eiervrug, in
dun skyfies gesny
6 groot murgpampoentjies, diagonaal
in lang skyfies gesny
1 rooi soetrissie, in repe gesny
2 groot ryp tamaties, in skyfies gesny
1 rooi-ui, gehalveer en in skyfies gesny
sout en peper
100 ml gerasperde parmesaankaas
30 ml (2 e) elk fyngekapte vars origanum
en Italiaanse pietersielie
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
1 Voorverhit die oond tot 180 ÅãC en smeer ’n groot oondbak liggies met olie.
2 Pak die groente in rye in die oondbak en giet die helfte van die olie oor. Geur na smaak.
3 Meng die kaas, kruie en suurlemoenskil en strooi oor die groente. Giet die res van die olie oor en bak vir 45–50 minute of tot goudbruin en gaar. Sit warm voor as bykos en garneer met vars origanum.
Tuisgemaakte bone in tamatiesous
Lewer 6 porsies • 45 minute
Vir sousboontjies het ek nog nooit ’n voorliefde gehad nie, maar ek is mal oor boontjies in tamatiesous. Hierdie dis is heerlik as ’n ligte maaltyd. Jy kan ’n eier byvoeg, dit op roosterbrood sit en ’n handvol pietersielie byvoeg.
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
1 rooi- of gewone ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie
3–4 ryp tamaties, geskil en in blokkies
gesny (sien wenk)
30 ml (2 e) tamatiepasta
’n paar druppels worcestersous
10 ml (2 t) sagte bruinsuiker
1 x 410 g-blik botterbone, gedreineer
1 x 410 g-blik borlotti- of cannellini-bone,
gedreineer
1 x 410 g-blik nierboontjies, gedreineer
sout en peper
30 ml (2 e) gekapte vars origanum
30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse
pietersielie
1 Verhit die olie in ’n braaipan en soteer die ui en knoffel tot sag. Voeg die gedroogde kruie en tamaties by en soteer tot die tamaties begin sag word.
2 Roer die tamatiepasta, worcestersous en suiker by en prut vir 10 minute. Roer die bone by en geur met ’n knippie sout en ’n bietjie swartpeper.
3 Prut vir nog 15–20 minute, met ’n deksel, sodat die bone die geure kan absorbeer. Roer die vars kruie by.
4 Sit voor met ’n skeppie pesto, ’n skeut olyfolie en swartpeper.
Wenke
1. Om tamaties te skil: Sny ’n diep kruis aan die stingelkant en bedek die tamaties met kookwater. Bedek dit selfs ’n tweede keer, indien nodig. Die skille sal nou maklik aftrek. Hoe ryper die tamaties, hoe makliker skil dit.
2. ’n Paar skywe wit cheddar-, pecorino- of parmesaankaas of gekrummelde fetakaas is ook lekker saam met die bone.
——————————————————————————————————————————————————-
Ek is absoluut verheug om te kan aankondig dat ek een van die 3 beoordelaars gaan wees vir die nuwe Kyknet reeks, Koekedoor. Soos haar susters-program word hierdie ook vervaardig deur Homebrew Films van Kokkedoor, Kokkedoor faam. Ek sien so uit om al die deelnemers te ontmoet en die maand wat ons In Tulbagh gaan spandeer terwyl ons dit skiet.
Mari-Louis Guy is ’n vryskut-kosstilis en kosboekskrywer wat saam met haar broer, Callie Maritz, onder die naam Cakebread werk. Hulle het reeds 5 kosboeke gepubliseer, o.a. Koeke ter Vering van Liefde en Lewe, Markdag en Onthaal op Groot Skaal. Deel jou ervarings en resepte met haar by cakebreadct@gmail.com of vind haar op Facebook by Cakebread= Mari-Louis Guy and Callie Maritz.