Jy kan die gereg ook met ander wors as varkworsies berei.
GENOEG VIR 6 MENSE
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 40 min.
1 ui, grof gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 rooi brandrissies, grof gekap
30 ml (2 e) olyfolie
500 g varkworsies, in stukke gesny
’n hand vol basilie, grof gekap
’n hand vol pietersielie, grof gekap
4 aartappels, in stukke gesny
3 wortels, in stukke gesny
2 x 400 g kersietamaties
400 g gespikkelde suikerbone, afgespoel
250 ml (1 k) beesvleisaftreksel
125 ml (½ k) bevrore ertjies
400 g heelpitmielies
sout en vars gemaalde peper
Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Braai die ui, knoffel en brandrissies in ’n diep oondvaste kasserol in die olyfolie. Voeg die stukke varkworsies by en roer deur.
- Kook 10 min. of tot die worsies amper gaar is. Voeg al die oorblywende bestanddele by.
- Bedek en bak 30 min. Haal uit die oond en geur met die sout en vars gemaalde peper.
Deur Hope Malau